Vir sy navorsing vir die weeklikse Regsalmanak-rubrieke maak Gustaf Pienaar grotendeels van Juta Law se aanlyn biblioteek gebruik. Hierdie regsbiblioteek is ‘n omvangryke naslaanbron van hofsake, wetgewing en ons land se dinamiese grondwetlike ontwikkeling. Juta Law stel hierdie bronne goedgunstiglik tot Gustaf se beskking vir die skryf van hierdie rubrieke. Vir nadere besonderhede besoek www.jutalaw.co.za.

Foto van die film Boyhood (uit die LA Times)
In Februarie 1980 het 'n jongeling met die van Smith – sy naam word nie genoem nie – by die hooggeregshof in Bloemfontein aansoek gedoen dat hy as 'n meerderjarige verklaar moet word ingevolge die destyds geldende Wet op Meerderjarigheidsouderdom, Wet 57 van 1972.[i] Sy advokaat was ene PJJ Olivier en daar is by my min twyfel dat dit die eerbiedwaardige latere appèlregter en voorsitter van die Suid-Afrikaanse Regskommissie, regter Pierre Olivier, was. Die feit dat Smith deur so 'n begaafde regsgeleerde verteenwoordig is, het hom egter nie veel gehelp nie, want die hof het uiteindelik geweier dat hy meerderjarig verklaar word.
Reeds in die Romeinse Reg was dit vir minderjariges moontlik om by die owerheid aansoek te doen om as meerderjariges verklaar te word. In die Romeinse Reg het mense eers op ouderdom 25 mondig geword, en dit het hul gevolglik vir 'n groot deel van hul lewe verhinder om selfstandig oor hul eie sake te besluit en aan die handelsverkeer deel te neem. So 'n aansoek om as meerderjarige verklaar te word, het in die Romeinse Reg bekend gestaan as venia aetatis – letterlik "'n vergunning van ouderdom".
Die destydse Suid-Afrikaanse Wet op Meerderjarigheidsouderdom het bepaal dat alle persone die meerderjarigheidsouderdom bereik wanneer hulle 21 word. Dié ouderdom is in 2007 na ouderdom 18 verlaag.[ii] (Ek sal hier onder iets meer daaroor vertel.)
Voor mondigwording – of dit nou die vorige 21 jaar of die hedendaagse 18 is – is alle persone minderjariges en word hul handelingsbevoegdheid beperk. Dit het byvoorbeeld beteken dat 'n minderjarige geen afdwingbare kontrak kan sluit sonder dat hy deur sy ouers of voog bygestaan word nie. Minderjariges kan ook nie sonder hulle ouers se toestemming in die huwelik tree nie; 'n mens kan nie suksesvol 'n siviele eis teen 'n minderjarige instel as hy nie deur sy ouers of voog bygestaan word nie; ens.
Ingevolge die eertydse Wet op Meerderjarigheidsouderdom kon 'n persoon egter, soos ek reeds gesê het, by die hooggeregshof aansoek doen om 'n bevel waardeur hy meerderjarig verklaar word. So 'n persoon sou dan in alle opsigte as 'n meerderjarige beskou word met al die regte en voorregte – maar ook die pligte – wat normaalweg met meerderjarigheid gepaard gaan. Die Wet het bepaal dat die aansoeker 'n beëdigde verklaring moes aflê waarin die normale persoonlike besonderhede verstrek word – volle name, gewone verblyfplek, geboortedatum, gestaaf met 'n geboortesertifikaat; of die minderjarige nog by sy ouers woon; of sy ouers die aansoek steun; oor watter roerende en onroerende eiendom hy beskik; ens. Die Wet het ook spesifiek vereis dat die aansoeker besonderhede moes verstrek wat die hof in staat sou stel om te oordeel of hy geskik sou wees om sy sake self te reël met behoorlike inagneming van sy gedrag, verstandelike ontwikkeling en sakevernuf.
Nou, terug na die aansoek van die jongeling Smith in Februarie 1980.
Die saak het voor waarnemende regter Bethune[iii] gedien. Uit die aansoekstukke het dit geblyk dat Smith in elk geval ‘n raps meer as vier maande later 21 – en dus meerderjarig – sou word. Hy was reeds die eienaar van 'n plaas wat minder as 13 km geleë was van die plaas waar hy nog tydens die aansoek by sy ouers gewoon het. Hy het sy vader gereeld aangaande belangrike besluite geraadpleeg en al die aanduidings was dat daar geen wrywing tussen hulle bestaan het nie. Hy het in sy aansoek ook gesê dat hy waarskynlik in die toekoms na die aangekoopte plaas sou verhuis. Verder het dit ook geblyk dat hy 'n verband oor die plaas wou laat registreer. As hy nie meerderjarig verklaar sou word nie, sou 'n aansoek tot die hof gerig moes word vir verlof tot die registrasie van 'n verband daaroor. Dit sou ekstra koste beteken.
Regter Bethune was egter nie tevrede met die redes vir die aansoek wat aan hom voorgelê is nie. Hy het daarop gewys dat ons howe baie versigtig is voordat so 'n aansoek toegestaan word en hy het gesukkel om te begryp waarom Smith se vader nie vir die volgende paar maande, totdat hy 21 sou word, kon voortgaan om hom by te staan by die aangaan van kontrakte nie. Die regter was ook bekommerd oor die verband wat die minderjarige oor die plaas wou laat registreer. Die bedrag wat ter sprake was, was aansienlik en hy was nie tevrede dat goeie redes gegee is waarom die minderjarige – onmiddellik nadat hy tot 'n meerderjarige verklaar is – so 'n groot verpligting sou oploop nie. Gevolglik het regter Bethune die aansoek van die hand gewys en moes die jongeling Smith maar wag totdat hy mondig word voordat hy sy eie sake kon behartig.
Ek het reeds daarop gewys (eindnota 1) dat die 1972-wet in 2005 herroep is deur die Children’s Act van daardie jaar.[iv] Dit is ‘n omvattende – en, sou ek wou byvoeg, moderne – wet wat verskeie aspekte van die lewens van kinders reël; mondigwording is maar een van die sake wat opnuut gereël word. Artikel 17 van die wet reël kort en kragtig: “A child, whether male or female, becomes a major upon reaching the age of 18 years.”[v] Dit was in navolging van artikel 28 van die Grondwet van 1996 wat oor die regte van kinders handel. Artikel 28(3) bepaal dat waar die Grondwet na “kind” verwys, dit iemand onder die ouderdom van 18 is.
Daar was egter ‘n tweede vername rede vir die verlaging van die mondigwordingsouderdom: die feit dat soveel kinders dwarsdeur die land wees gelaat is (en steeds word) vanweë die Vigs-epidemie. Dit het voor die inwerkingtreding van die wet beteken dat jong kinders dikwels in beheer van huishoudings gelaat is, wat op sy beurt ingehou het dat sulke kinders regtens verhoed is om geldige ooreenkomste te sluit omdat hulle nog nie 21 jaar oud was nie.
Les bes kan 18-jariges in ons reg mos ‘n lisensie bekom om ‘n motorvoertuig op openbare paaie te bestuur en kan hul ook in verkiesings stem. Waarom dan nie maar ook aan 18-jariges die bevoegdheid verleen om oor hul eie sake te beslis nie?
Bestaan daar ruimte in ons reg dat die meerderjarigwordingsouderdom van 18 vérder verlaag kan word?
Die Children’s Act van 2005 maak voorsiening vir die instelling van howe spesifiek vir kinders. Omdat die wetgewer voorsien het dat dit lank sou neem om sulke howe daar te stel, verleen artikel 45(3)(f) van die Children’s Act aan die hoër hof sowel as aan egskeidingshowe die bevoegdheid om te beslis oor sake soos “the age of majority or the contractual or legal capacity of a child”. In beginsel moet die antwoord dus “ja” wees.
Ek dra egter nie kennis van enige aansoeke wat sedert die inwerkingtreding van die Children’s Act tot vermelde howe gerig is met die oog op die verlaging van iemand se mondigwordingsouderdom na onder 18 jaar nie. Ek glo ook nie dat so ‘n aansoek ligtelik toegestaan sal word nie. Kyk net hoeveel moeite en koste het dit die arme jongeling Smith onder die 1972-wet gekos – als puur verniet![vi]
[i] Dié Wet is intussen herroep deur die Children’s Act, Wet 38 van 2005.
[ii] Wet 38 van 2005.
[iii] Ex parte Smith 1980 (2) 533 (OPA)
[iv] Die Wet het egter eers op 1 April 2010 ten volle in werking getree.
[v] Dié artikel het reeds op 1 Julie 2007 in werking getree.
[vi] In alle billikheid moet ek darem byvoeg dat onder meer die aansoeker in Ex parte Kotzé 2004 (3) SA 74 (B) gelukkiger was: hy is op ouderdom 20 deur die hooggeregshof van die eertydse Bophuthatswana kragtens die 1972-wet meerderjarig verklaar.


